klop en vir julle sal toegemaak word
by Wopko Jensma

beethoven was ‘n skisofoon
só maak die sielwetendes my verstaan
gauguin was ‘n skisofoon
só laat die tugkomitee my dit voel
baudelaire was ‘n skisofoon
èn, boonop is hy aan syphilis dood
francois villon was
paul van ostaijen was
marcel duchamp was
hendrik marsman was
tristan tzara was
òns benodig ‘n gemeenskap
wat werk nes ‘n byekorf
òf miernes (ibid: salomo 1: 1)
waar elkeen sy of haar plig
in hierdie saak ken of beken:
besoek jou kerk gereeld
moenie jou werk verander nie
koop jou televisiestel
luister nuus, lees koerant
koop ‘n bougenootskaphuis
dring aan op kux seep
betaal ‘n begrafnispolis af

eugène marais was ‘n skisofoon
èn, boonop verslaaf aan morfien ook
dumile is ‘n skisofoon
wolf kibel was ‘n skisofoon
can themba was
vincent swart was
nat nakasa was
cyprian sjilako was
kippie moeketsi is
raditladi was ‘n skisofoon
èn, op moussorgski se kaal berg dood
harold rubin is ‘n skisofoon
david botes is ‘n skisofoon
is ek nou om te wees? en om te glo?

nie alle diere is olifante nie
nie alle diere is donkies nie
nie alle diere is hyenas nie
nie alle diere is seekoeie nie
nie alle diere is renosters nie
nie alle diere is zebras nie
nie alle diere is bokke nie
nie alle diere is ape nie
nie alle diere is skape nie
party is ystervarke, krimpvarke